Quantcast
Channel: gewildstegedigte.litnet.co.za
Viewing all articles
Browse latest Browse all 55

Mabalêl

$
0
0

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;
vrolik klink die liedjie
wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.
Op die voetpad sy alleen,
met die skadu’s om haar heen;
op haar kop die kruik gelig
in gedienstig’ ewewig.
Golwend kleur die hemelboog,
stadig sterf die laaste lig,
en van verre deur die skermmure
wenkend blink die eerste vure.

Wydgestrek in eensaam’ vrede
lê Rakwen’, die stille, brede;
glansend in die westerpraal,
met ’n ceintuur in sy diepte van koraal.
En die witgepluimde riet
sing ’n treurig’ wiegelied,
en buigend vleg ’n silwersoom al om
die diepgespieëlde hemelkom.

Wag, wag, Mabalêl!
Is daar niks wat jou vertel –
is daar niks wat deur die duister
bang en dringend in jou ore fluister
van die vreeslike gesel
wat jou vrolik’ lied beluister,
wat jou spoor hou, Mabalêl?
Word jy niks gewaar
van ’n dreigende gevaar?
Voel jy nog nie, kil en snood,
om jou hart die skadu van die dood?

Ver benee die palmietstele
in die bloue duister wag Lalele,2
kwintessens van alle boos,
die Wreedheid self, meedoënloos;
met lydsaamheid wat alles kan ontbeer.
wat tyd en toeval kan trotseer;
wat seker as die Noodlot van sy dag
stil-wakker in die diepte op sy ure wag.
Deur winterkou en somergloed,
Deur blakend’ droogte en swelgend’ vloed,
Deur al die kerende taf’rele,
In sy diepte wag Lalele.

As die straaltjie in die sand
deur ’n vlam-geskroeide land
tussen walle dor en vaal
skaars die rotse van Rakwena haal,
en die hulsels van die riet
’n rouband bind van swart verdriet
om die groenbedekte kuil
waar die laaste water skuil
en die sugtend’ wind versmag
deur ’n woedend’ son verkrag –
roerloos by die skepplek hou Lalele wag!

En wanneer in donker nagte
rasend losbreek al die magte
van geweld en storm en vloed,
en Rakwen’ omring van angsgeskreeu,
smagtend sig nog eens te wreek,
soos ’n swaar gekweste leeu
swart en brullend deur die bome breek; –
blinkend uit die donker kolk, –
vlieg ’n vlammend’ dolk, –
wat deur stormbanke dig
’n wêreld van verwoeste loof verlig –
ongeroer deur al die groot krakele
in sy diepte wag Lalele!

Droom sy op die kantjie, Mabalêl,
tot haar hart verlangend swel;
in haar peinse ongedeer,
staar sy in die diepte neer,
staar sy in die spieëlgewelf
met die donker reeds omsoom –
tot sy, dromend, self
deel word van ’n salig’ droom;
uit die wêreld omgekeer
lokkend lag haar beeldjie weer.

Stadig deur die rietpensele
opwaarts uit die diepte rys Lalele.
Skud jou wakker, Mabalêl!
Sien jy nie die skadu opwaarts wel?
– Naar die hoogwal, Mabalêl!
Hou jou mymering vir later –
nooit had vyg of wilg in water
so ’n gespieëlde metgesel!
Nooit ’n skrikbeeld uit die holte van die nag,
wat die dromer sug doen na die dag;
nooit onheilige gedaante uit die diepte van die hel
half so dreigend, half so fel
as dié skadu, Mabalêl,
as dié skadu, wat benee jou
uit die diepte opwaarts wel.

Voor jou voete, Mabalêl,
deur die westergloor verhel,
waar jy onbedagsaam staar,
sonder ooit gedagte van gevaar,
uit die stroomweg stadig
dryf ’n halfverdrinkte blaar.3

Had jy spiere van ’n tier,
of die vlerke van ’n gier,
meidjie, niks sou dit jou baat,
want te lank het jy gewag – te laat!
Uit die spieëlvlak omhoog
bars ’n skuimend’ waterboog;
oor Rakwena, kalm en breed,
galm ’n enkel angsvol’ kreet;
en dan saggies weer
oor alles sak die stilte neer.

Winkend deur die skermmure
helder blink die voornagvure.
Uit die donker stilte, skel,
klink geroep na Mabalêl
en die rotse antwoord weer;
maar terugkom sal sy . . . nimmermeer.

Stadig deur die rietpensele
naar die diepte sak Lalele.

1. Die groot seekoeigat in die Limpopo, in die ou tyd as Rakwena bekend – “Vader van die Krokodil”; later Mabalêl genoem naar die jong dogter van die kaptein Rasithlare. Haar nagedagtenis leef nog in liedjies wat die vroue sing.
2. Lalele is die naam wat algemeen gegee word aan ’n krokodil wat in die gewoonte is om een plek op te pas: ’n drif of ’n drink- of skepplek. So een is altyd die grootste en gevaarlikste.
3. Die “halfverdrinkte blaar”is die verskyning net voor die krokodil sy slagoffer met die stert in die water slaan – ’n wyse van aanval net deur die grootste krokodille gebesig en meestal in die gevalle waar die slagoffer ’n mens is. Die krokodil vertoon net die “oogbankie” bo die oppervlakte, en so volstandig maak hy op dié wyse ’n klein drywende voorwerp na, dat ou rivierbewoners al dikwels bedrieg is.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 55

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>