’n Lied van my beminde
’n Lied van frisse maagdeskoon,
Blou oë waarin die hemel woon,
Van lokke wat met songoud gloei,
Van wange waarop rose bloei;
’n Mond waar soentjies lonk en lag.
Op lippe roos en warm en sag,
Van hande vlug en wit en fyn,
Bekoorlikheid in elke lyn;
Van skelme kykies op en neer
’n Glimlag van ons liewe Heer!
Lieftalligheid van Godsgena,
Laetitia Dulcissima!
’n Blye lied van blyste dag,
Die son breek deur die wolke-rag;
Die orrel speel ’n jubeltoon;
Daar kom ’n koningin te skoon:
My bruid, my skat, in wit gewaad!
’n Sluier oor haar lief gelaat.
Ons kniel tesaam voor Gods altaar
En liefde en trou sweer ons mekaar;
Dan blomgestrooi, musiekgeluid!
Was ooit so ’n dag, was ooit so ’n bruid?
’k Staar in verbeelding haar nog na
Laetitia Bellissima!