o Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos ’n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort,
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort.
*
Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,
só, dat my lewe se glans verdwyn:
Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!
en – ek gryp my bors van die pyn.
o Die bliksemgedagte! . . . Ja, lieflingskind,
één straal het jou hele liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.
Sy was so teer soos ’n vlindertjie,
sy ’t lugtig omheen geswerf;
’n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!
Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis één uit die tienduisend-tal,
en ag! dat dit sy was en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!
o Die pyn-gedagte: My kind is dood! . . .
dit brand soos ’n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.