Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
van jou sal net ’n bloedkol bly
hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
deur jou gebyt en plaery
kon ek nie slaap vir ure.
Mag ek my voorstel, eer ons skei,
eer jy die doodslag van my kry –
my naam is Van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
wees ook nie so kieskeurig nie,
jy moet tog ééndag sterwe.
Verwekker van malaria,
sing maar jou laaste aria –
nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nóg so lang,
al sê jy ook: ek is nie bang,
nooit sien jy weer jou nasie . . .
Hoe sedig sit hy, o, die ding!
Sy kinders kan maar kranse bring
nóú gaan die vabond sterwe . . .
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dóód sal hy, sowaar, ek sweer –
my naam is Van der Merwe!