Quantcast
Channel: gewildstegedigte.litnet.co.za
Viewing all articles
Browse latest Browse all 55

Toe die wêreld nog jonk was

$
0
0

“In dié dae was die reuse op die aarde… die manne van naam.” Gen. 6:4

Kort anderkant Jerusalem
Daar het gewoon Metusalem,
Die man wat hul – dit sal jy sien
Vermenigvuldig het by tien!
Hy was g’n vier jaar in die land
Toe kry hy al sy eerste tand;
By tien jaar kruip hy oral rond,
’n Flinke knapie en gesond:
Toe rol hy al, en val en woel
En staan hy op teen elke stoel.
Nog skaars was hy ’n jaar of elf
Toe stap klein Lemmie al vanself.
So groei hy op tot sestig jaar:
Die eerste wisseltand was daar;
En volgens landswet ry “oom Kool”
Op ou Behémot na die skool.
Sy vaders trots, sy moeders vreugd’,
Met Step by Step en Trap der Jeugd
In Hoog-Galdeeus en Aramees,
Want almal moes tweetalig wees.
’t Was goed en wel, maar alte vaak
Het dié twee “opgemix” geraak.
Hy leer; en voor hy honderd was,
Staan hy al eerste in sy klas!
Op honderd-sestig moes meneer
Sy melkbaard al begin te skeer;
Tien jaar daarna al katkiseer
En Hellembroek – die dubb’le – leer;
Nog tien jaar toe begin hy al
’n Mooi, klein noointjie lastig val.
Verniet dat Vader loop en brom:
“Kniehalter-span sal ek vir hom!
’n Bog van honderd-tagtig jaar
Praat al van trou – so wrintie waar.
Maar styf sal hy sy rieme loop –
Hy dink glo trou is kémel koop!”
“Kind,” sê sy ma, “daar’s baie tyd –
Waarvoor die grote haastigheid?”
Maar wat, die snuiter was getroud
Skaars honderd-ses-en-tagtig oud.
En soos dit in die huwelik gaan,
Sy huisgesin groei stadigaan:
So elke dertig-veertig jaar
Is weer ’n nuwe outjie daar.
So word, met dat die eeue rol,
Ook mettertyd sy koker vol –
’n Pure man Metusalem,
Die Raadslid vir Jerusalem!
Hy tem die woeste Dinosour
En skiet die wolhaar-Brontosour;
En van sy vel maak hy ’n jassie
Vir klein Mahérskalálgasbassie.
Maar klein Kedorlaomertjie
En lief Kirjatjaromertjie,
Die tweelingboetie en sy sussie,
Kry elk ’n hippopotamussie.
Tiglatpileser, die parmant,
Wil niks hê as ’n olifant;
Maar Hammoerabie huil en sê
Hy wil ’n wit harnoster hê.
En klein Metusalem verlang
Pa moet vir hom ’n walvis vang.
“Habbakukkiena, bly tog stil!”
“Ag, Ma, hul vat my krokodil!”
Maar Gog-Magog met breë bors
Eet soet sy leviatanwors.
Ja, glimlag moes die moeder wel
By dié verteed’rend’ kinderspel:
Hoedat – dis om jou hart te steel –
Die kleinspan met hul diertjies speel!
So leef hy voort en doen sy plig
Tot sewehonderd-sewentig.
Toe sê hy: “Kinders, nou gaan ek
My aan die boerdery onttrek.
Voor nog ’n honderd jaar verloop,
Sal ek vir my ’n bril moet koop.
Die paar ou eeutjies wat ek nog
Hier op die aarde lewe mog,
Wil ek gaan rus van al my werk.
My dorpshuis staan vlak by die kerk;
Die dokter en die predikant
Is albei sommer byderhand.
Hou, as ek weg van julle woon,
My kinders, julle paadjies skoon:
Pas op vir borgstaan en krediet
Vir Israel- en Ismaeliet.
Behou die grond, kaart en transport;
Betaal kontant: die lewe is kort,
’n Droom – en voor ’n mens gewaar,
Dan is die ouderdom reeds daar.
My lewe is – so skyn dit my –
Soos ’n gedagte snel verby!
My dogters, luister tog vir Pa:
Volg nie die nuwe modes na:
’t Word alles korter – liewe land! –
Die rok, die hare en verstand.
Dit dans, dit rook – dis om te ween.
In hemelsnaam! Waar moet dit heen?
Ligsinnigheid wat my verstom –
Vanslewe was dit andersom.”
En so verslyt Metusalem
Sy oudag op Jerusalem,
En drink en rook op sy gemak
Sy koffie en sy pyp tabak.
So sit en peins hy menigmaal:
“Die duisendtal sal ek nooit haal.
Ek het ook soveel knoue weg
In wilde-mens- en diergeveg,
En sware koue in die nat
Vierhonderd jaar gelee gevat.
’k Onthou nog goed die groot kapok –
Die sneeu tot aan die huis se nok.”
Op nege-sewentig-min-een,
Sy tydjie om, was hy daarheen;
En niemand wis of dag daaraan
’n Wêreldrekord was geslaan.
Die feit is daar: Van toe tot nou
Het hy die langste aangehou!


Viewing all articles
Browse latest Browse all 55

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>