Quantcast
Channel: gewildstegedigte.litnet.co.za
Viewing all articles
Browse latest Browse all 55

Klein vrede

$
0
0

Vanmiddag wag sy vir hom in ’n klein hoëmuurhuisie
half toe-oog ingekruip agter ’n straatstoepie

5.12 hang hy sy hoed aan die haak
trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater deur die koffiesak

vee haar hande aan die geblomde voorskoot en wag darem
dat hy haar eers teen hom vasdruk, so skuinserig met die een arm

voor sy hom die dag se nusies vertel
die gat in die heining, die hond, Anna-jannie het gebel

Na ete haal sy die Bybel uit die boonste laai
en hy lees vir hulle van Israel se afgode teen die berg Sinaï

haar hande vou ’n stopskulp in syne as sy bid:
Onse Vader wat hoog bo die aarde in die hemel sit . . .

Die maan rys soos ’n koringmeelbrood bokant die dak
sy was skottelgoed met lifebuoy en ’n omgesoomde meelsak

hy luister nuus op die treetjie by die agterdeur
oor dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur

Later as die luggie begint trek
die windpomp klap-klap in die dam in lek

sit hy die sproeier af, maak die hoenderhokke toe
sit die kat uit en kom langsaam kamer toe.

In die na-nag as die wind uit die noorde begin
skuif die maan oor hul bed dieper die kamer in

tot op die woorde geraam in krulle:
My vrede gee Ek julle.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 55


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>