Terwyl die Negesterre en die stedeligte witter
in die donker suidelike nagte óm ons skitter,
slaap jy nog weg in nag en swye
langs mos en varings van eertye:
’n see-anemoon waar geel spirale
lig deur water in jou van ’n Oerson daal,
daal in jou slaap; jy roer,
’n vis teen riet en maan se perlemoer;
jy sluimer in ’n tonnel van die kuil –
’n otter in nat holtes nog verskuil;
dan stort jy skielik uit as mens, besitter
van die Negester en stedelig se skitter.
Saans as die rye ligte langs die strate brand
sal jy met wye oë en met kleine hand
vir my bedui en stotterend sê
hoe groot houttolle kabels in diep slote lê;
partymaal sal jy by my tafel neul
om na die sirkus of die mallemeul
te gaan; en vaster om jou groei bioskope,
fabrieke, speurverhale en mynhope;
saans sal die stad se ligte witter
in jou donker siel bly skitter.
Watter kaart of watter ster sal ek jou wys
om veilig deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ’n God praat wat verdoem,
van Christus, en die Tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens ’n ewigheid;
gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen,
besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.