Deur daardie tuintjie het sy stil gegaan,
haar hande need’rig oor haar bors gevou,
toe hy, verblindend soos die son, daar staan:
drie wit lelies het hy in sy hand gehou.
Half-skaam, verleë, het sy opgekyk
en is opeens met groot vrees bevang:
sy oë het van haar nie afgewyk,
sy vleuels het oor heel die tuin gehang.
“Geseën is jy onder die vroue” – sy woorde –
of was dit winde? – verruis nog in haar oor,
toe hy teen die son in goue vlug verdwyn . . .
Sy het haar neergebuig en half-versmoorde
klein snikkies in haar hart gehoor,
van verlossing reeds die vreugde en die pyn.